|
|
|
Omsendbrief 1/2001 2001-03-26 AAN: LEDE VAN DIE HOOFDAGBESTUUR GEBIEDSBESTURE (NATAL, TRANSVAAL, VRYSTAAT,
KAAP, NAMIBIË)
Dagsê aan alle Voortrekkers hier uit Tanzanië. Dit is 'n groot voorreg om sover en tog nog in kontak te kan wees met almal. Die land is baie mooi, onsettend warm en het 'n pragtige natuurskoon. 'n Mens dink onwillekeurig daaraan dat ons land dieselfde bied, maar meer gesofistikeerd en met baie meer luukses. As 'n mens die skole, winkels ens. vergelyk, dan besef ek dat ons baie stof tot dankbaarheid het. Die eerste deel van ons kongresjaar behoort reeds tot die verlede en ek wil baie dankie sê aan al diegene wat reeds so baie vermag het. Ons moet veral hierdie jaar met nuwe ywer inklim en sodoende ons erns t.o.v. ons jeug te onderstreep. Die jeug kan nie alternatiewe keuses maak as ons nie dit vir hulle help skep nie. Baie goeie terugvoer is ontvang vanaf Pionier, Schuinshoogte, Spioenkop en Congella kommando's en ons is dankbaar en opgewonde daaroor. Die GDB wil graag die Staatmakers weereens sterkte toewens met die besondere taak wat hulle opgeneem het. Ons glo dat hulle, sowel as die Kuswag jeug, hope pret en plesier het wat voorlê. Die GDB help graag in enige opsig wat die Kuswag bestuur mag nodig ag. Soos die normale gang van die lewe dit wil hê, het ons vakatures wat vanuit die niet opgeduik het en sodoende groot druk op die normale organisasie van die gebied plaas. Ek wil ten eerste vir hulle wat nie die termyn kon uitgesien het nie namens GDB baie dankie sê vir alle bydraes wat hulle gemaak het en voorspoed toewens vorentoe. Aan die lede wat sonder aarseling toegetree het, op baie kort kennisgewing, 'n opregte dankie! Ek wil veral vir David Vermaak uitsonder, wat na 'n baie kort ruskansie bereid was om weer in te skakel by GDB waar sy kennis, ondervinding en vernuf baie nodig is. Sterkte aan hierdie jaar se HW en PV kandidate, ons wil die hoop uitspreek dat dit vir julle 'n reike ondervinding sal wees wat julle altyd sal bybly. Helaas wil ek net sê aan al ons offisiere: Onthou dat elke dag is 'n nuwe begin wat ons geskenk word deur ons Hemelse Vader. Laat ons dus wat ons vir die organisasie doen dit so doen dat ons Sy naam daardeur sal verheerlik ! Hou Koers! Sias Cronjé
2. MEELEWING 2.1 Ons verwelkom graag mnr David Vermaak as Adjunk Gebiedsleier: Bemarking. Die Dagbestuur is verheug dat David ingestem het om op die bestuur te dien. Sy kennis is van onskatbare waarde. David se verreikende kennis van Verkennerlewe maak hom ook die aangewese persoon as voog vir die Verkennerkomitee. 2.2 Mnr Brits Maree (Oordleier Natalia, Voorsitter PD Komitee en Offisier van Christiaan de Wet Kommando) het bedank as gevolg van 'n nuwe pos wat hy aanvaar het. Ons wens hom en sy gesin alle voorspoed toe. 2.3 Sanchia Cronjé (voorheen Staatmaker van Congella) het op 24 Februarie 2001 in die huwelik getree met Jason Judge - ons wens hulle baie geluk. 3. ADMINISTRASIE 4.1 Jaarverslagvorm Die Jaarverslagvorms word hierby ingesluit. Ons doen
'n beroep op alle AKL's : Admin. om toe te sien dat die vorms korrek
ingevul word en die Gebiedskantoor bereik voor 30 April 2001. Ledelyste word ook hierby ingesluit. Kommando's word versoek om die nodige deregistrasies op die lys aan te bring (trek net 'n lyn deur 'n persoon se naam wat nie meer lid is nie). Dieselfde geld vir enige wysigings. Stuur die lys asb. voor 30 April 2001 aan die Gebiedskantoor. 4.3 Kongres 2001 : 12 - 14 Julie 2001 Kommando's het almal teen hierdie tyd die brosjure oor Kongres 2001 ontvang. Ons herinner u daaraan dat afgevaardigdes voor 27 April 2001 aangewys moet word. 4.5 Kommandodagbestuur Die aangehegte lys toon die dagbesture van die verskeie kommando's aan. Laat weet asb. die Gebiedskantoor onmiddelik van enige wysigings. 4. FINANSIES Die eerste kwartaal is maar tradisioneel stil wat Finansies aanbetref. Gelukkig het die huurtermyn van die fotostaatmasjien verstryk, en ons het vanaf Maartmaand 'n besparing van R588.19 per maand. Aangesien Die Voortrekkers maar twee keer per jaar van Zaay Lager gebruik maak, is daar op 'n vorige vergadering besluit om die elektriese krag te ontkoppel. Dieselfde is met die water gedoen. Groot besparings is reeds getoon. 5. PENKOPPE/DRAWWERTJIES Met die skielike bedanking van mnr. Brits Maree is die PD Komitee in 'n redelik krisis gedompel, veral wat die reëlings van die PD kamp aanbetref. KL Herman van Rensburg (Pionier) het vinnig die leisels opgeneem en die terugvoering wat ontvang is, is dat alles klopdisselboom verloop! Alle PD's kan verseker wees van 'n heerlike kamp. 6. VERKENNERS Vanjaar het 11 Verkenners ingeskryf vir die HW eksamen op 23 April 2001. Ses van die kandidate is van Pionier en vyf van Schuinshoogte. Ons wens hulle alle sterkte toe. Die Bundu Kamp vind vanjaar plaas in die Bergville distrik, op die plaas "Strydhoek". Onder KL Johan Matthee se leiding en met die interessante kentekens wat aangebied word, kan die Verkenners uitsien na 'n opwindende kamp! 7. STAATMAKERS Die Staatmakers het versoek om losgemaak te word van Congella Kommando en hulle gewig in te gooi by Kuswag Kommando, om te verhoed dat die Kommando doodloop. GDB bedank die Staatmakers vir hulle bereidwilligheid en wens hulle alle voorspoed en sterkte toe vir die taak wat voorlê. 8. VOLWASSE SAKE Slegs Pionier (12) en Schuinshoogte (4) het die kursusnaweek te Richardsbaai bygewoon. Spanhantering is aangebied en die naweek was 'n reuse sukses. Ons hartlike dank aan die organiseerders en kursusaanbieders. Daar blyk 'n behoefte te wees vir die Oriënteringskursus. AGL Gert Ebersohn gaan die kursus oor twee weeksaande op Newcastle aanbied. KL Johan Bodenstein be-oog ook so 'n kursus in Durban. Belangstellendes moet asseblief die aangewese persoon kontak. 9. HOU KOERS Geen berigte en foto's is vir die eerste "Hou Koers" ontvang nie. Die tweede sperdatum is 11 Junie. Daar behoort heelwat foto's van die kampe te wees! 10. ALGEMEEN 10.1 Natalia Oord Met die bedanking van OL Brits Maree is hierdie portefeulje
nou vakant. Die Gebiedsdagbestuur vra nominasies aan vir Oordleier vanaf alle kommandobesture en die sittende oorddagbestuur binne die Oord Natalia. Nominasievorms moet die Gebiedskantoor bereik voor 30 April 2001. 10.2 Projek Omgee Aangesien Schuinshoogte Kommando al reeds sukses met liefdadigheidsprojekte behaal het, is daar besluit om Projek Omgee te loods in Newcastle. Schuinshoogte het wel ander verpligtinge die naweek van 12 - 13 Oktober, maar daar sal na 'n ander datum gekyk word (moontlik 15/09/2001). 10.3 Onthou asb. die volgende datums: 30/04 Jaarverslagvorms by Gebiedskantoor 11. AFSLUITING Mag elke kommando die verskil smaak van mense wat "doen", al is dit hoe gering. Voorspoed vir 2001! Ek is slegs
een, maar tog is ek een. Helen Keller Voortrekker groete
|